Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 13 OKTOBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

OKOSA Sê ALLE UITSTAANDE AMATEURLISENSIES IS UITGEREIK

SARL@HOME NOU OP 30 NOVEMBER

OPSTELKOMPETISIE VIR LEERLINGE VAN STAPEL GESTUUR

VERSLAE OOR 5 260 kHz DRINGEND BENODIG

DIE SUID-ATLANTIESE ANOMALIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

OKOSA Sê ALLE UITSTAANDE AMATEURLISENSIES IS UITGEREIK

Tydens die kwartaallikse SARL/OKOSA-skakelvergadering gehou op Donderdag verlede week, het OKOSA bevestig dat alle uitstaande eenjaar en meerjarige lisensies uitgereik en gepos is. Indien u nog nie u lisensie ontvang het nie, stuur asb. 'n e-pos aan dkuhrau@icasa.org.za met vermelding van u volle name, roepsein en adresbesonderhede.

Die vergadering het ook die verbeterings aan die amateurregulasies bespreek. Noudat die regsaak, wat die veranderings aan die regulasies vertraag het, van die rol van die hof geskraap is en die saak tussen die twee partye onderhandel word, sal werk aan die hersiene regulasies begin. Die SARL het OKOSA gevra om Aanhangsel H van die res van die regulasies te skei, aangesien veranderings aan die tabel van amateurfrekwensies bepaal is deur die nasionale tabel van frekwensietoekennings wat vroeër in die jaar in die staatskoerant gepubliseer is. Dit beteken dat Aanhangsel H nie publieke raadpleging benodig nie. OKOSA ondersoek die SARL se voorstel en het onderneem om die SARL binne twee weke van hulle bevinding in kennis te stel.

SARL@HOME NOU OP 30 NOVEMBER

Die volgende SARL@HOME wat by die Nasionale Amateurradiosentrum gehou sal word sal op 30 November wees en nie volgende naweek soos verlede week in die bulletin gerapporteer nie. Die rede vir die uitstel is die produsering van die CD en ondersteuningsmateriaal vir die gebeurtenis. Die werkswinkel sal van 09:00 tot 13:00 duur.

In 'n praktiese sessie sal deelnemers onderrig word oor hoe om met oppervlakmonteringskomponente te werk en sal hulle 'n laekrag FM-sender, wat 'n FM-dingetjie genoem kan word, bou. Die geleentheid sal ondersteun word met 'n CD, video's en inligting oor die FM-sender. Die sender of FM-sender is 'n ideale dingetjie in die hok om klank van 'n ontvanger op 'n skoon FM-kanaal in die huis te vesprei. Die koste vir die geleentheid sal R200 vir SARL-lede en R300 vir nie-lede wees, wat die CD en pak onderdele insluit. Besprekings sal binnekort op die SARL-web gedoen kan word. Slegs 20 deelnemers kan aanvaar word. Deelnemers moet hulle eie soldeerstasie en vergrootglas saambring. 'n Vergrootglas kan as 'n ekstra bestel word. Volledige besonderhede sal binnekort op die besprekingsvorm verskyn.

OPSTELKOMPETISIE VIR LEERLINGE VAN STAPEL GESTUUR

As deel van die SARL se Jeugweek 2014, wat van 10 tot 15 Februarie 2014 sal plaasvind, stuur die SARL 'n opstelkompetisie van stapel oor die tema: ‘Amateurradio jou poort na 'n loopbaan in Ingenieurswese en Wetenskap’. Jongelinge onder die ouderdom van 20 jaar word uitgenooi om pen op papier te sit, of wat deesdae meer van toepassing is, hande op die toetsbord vir die rekenaar/sleutelbord waaraan sleutels gehang word te sit en na te vors hoe amateurradio die ontwikkeling van radiowetenskap bevorder heten hoe dit 'n toegangspoort kan wees na 'n loopbaan in ingenieurswese en wetenskap.

Die kompetisie is verdeel in twee groepe nl. vir onder 15 jaar en vir 15 tot 20 jaar oud. Die wenner in elke groep sal beloon word met 'n skootrekenaar tydens die SARL se jaarlikse dinee in April 2014 en die beste inskrywing sal van RS Components 'n Rasberry Pi volledig met skerm, toetsbord vir die rekenaar/sleutelbord waaraan sleutels gehang word en muis ontvang.

Inskrywings mag in enige van Suid-Afrika se amptelike tale wees. Die sluitingsdatum is 28 Februarie 2014. Meer besonderhede is beskikbaar by www.hamradio.org.za.

MAAK GEREED VIR DIE RaDARKOMPETISIE OP 2 NOVEMBER 2013

Die RaDAR-kompetisie is 'n aktiwiteit gemik op die bevordering van die gebruik van snel ontplooibare amateurradiostasies. Daar moet vooraf gekies word in watter van die gedefineerde kategorieë deelgeneem gaan word. Die puntetoekenningstelsel is so ontwerp om draagbare bedryf, veral vir verskuifbare stasies aan te moedig.

Die kompetisie sal op 2 November tussen 14:00 en 18:00 UTC plaasvind. Alle amateurbande, uitgesonderd die WARC-bande, mag gebruik word, insluitende kruisbandwerking via amateursatelliete en modusse mag wees GG, ESB, AM, FM of enige digitale modus. Kontakte via aardgebonde herhalers is nie toegelaat nie.

Daar kan na 'n promosievideo op die bladsy van Amateur Radio Today op www.sarl.org.za gekyk word.

VERSLAE OOR 5 260 kHz DRINGEND BENODIG

Hierdie maand moet 'n tussentydse verslag by OKOSA ingedien word. stuur asb. u logstate in tesame met 'n kort beskrywing van die toerusting wat u gebruik asook besonderhede van die antenna. Die logstaat moet ook die ligging van u stasie asook die ligging van elke stasie waarmee u kontak gemaak het insluit.

Stuur asb. 'n kopie so spoedig moontlik aan propresearch@sarl.org.za.

LIDMAATSKAPAANSOEKE EN NOMINASIES

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
ZS6AMA, Mark Feldman (was 'n lid 10 jaar gelede); Richard Rabe, ZS6RAR; Alan Beacham, ZS1AJB.

Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

'n Aansoek om affilisasie is van die Potchefstroom Amateurradioklub ontvang.

Lede en klubs word daaraan herinner dat nominasies vir SARL-raadslede die Sekretaris moet bereik nie later nie as 31 Januarie 2014.

Volgens die mosie goedgekeur by die 2013 AJV mag lede sowel as klubs, sulke nominasies indien. Die presiese reëls is vasgelê in die konstitusie wat op SARL se webwerf gelees kan word. Nominasies moet deur ten minste tien SARL-lede gesekondeer word. 'n Vorm is op aanvraag beskikbaar by secretary@sarl.org.za. Om 'n balans te handhaaf tussen kontinuïteit en vernuwing is dit nodig om nuwe raadslede te kry. Nomineer asseblief u kandidate vroegtydig sodat die pap nie op die grond val nie.

DIE SUID-ATLANTIESE ANOMALIE

Die Bermudadriehoek, wat 'n gebied noord van die Karibbiese see insluit, is welbekend vir die raaiselagtige verdwyning van skepe en vliegtuie wat baie mites en teorieë tot gevolg het. Maar 'n werklike ‘Bermudadriehoek’ bestaan in die Suid-Atlantiese oseaan naby Brasilië wat vir hoogvliegende vliegtuie en satelliete baie gevaarlik is.

Aangesien die magnetiese Suidpool ongeveer 25 grade van die geografiese Suidpool af is, hel die binneste Van Allen stralingsgordel sterk oor na die suid magnetiese pool en raak dit bykans die aarde. Die ruimtewind gee vorm aan die binneste en buitenste Van Allengorgels en soos die hele stelsel draai, veroorsaak dit gedurende die dag veranderinge in die Suid-Atlantiese anomalie, dit groei en krimp en die intensiteit verander van sterkste teen middag en swakste teen middernag. Hulle energie wissel 100 tot 400 keV en kan 140 MM lood deurdring. Alle eltroniese apparaat wat deur hierdie anomalie gaan moet afgeskerm word en sensitiewe sensors moet vir die deurgang afgeskakel wees.

Die Departement van Fisika van die Universiteit van Rhodes het baie waarnemings van die Suid-Atlantiese anomalie gemaak, insluitende die tyd dat die SA Agulhas kruis en dwars in die gebied gevaar het; hulle het baie sporadiese E gedurende die nag waargeneem. In 2008 het Denemarke 'n magnetometerstasie op Tristan, die middelpunt van die Suid-Atlantiese anomalie, opgerig, ten einde die magnetiese veld van die aarde waar te neem en op rekord te stel.

CQ HOU KOERS EN JAMBOREE OP DIE LUG

OKOSA het oorkoepelende toestemming verleen vir jongmense om amateurradiotoerusting, onder streng persoonlike toesig van 'n gelisensieerde radioamateur te gebruik. Wys aan hulle hoe te werk gegaan word, sit terug, hou hulle dop en laat die jongmense werklik ondervind hoe amateurradio werk, deur selfs °C te roep. Dit moet op die logstaat aangedui word onder wie se toesig die stasie bedryf is.

ALBERTON AMATEURRADIOKLUB HELP ORK MET KLUBHUISBOU

Die Oos-Rand Radioklub betuig hiermee hulle opregte dank aan die Alberton Amateurradioklub vir hulp verleen.

Die Oos-Rand Radioklub is besig met die bou van 'n nuwe klubhuis en benodig baie donasies ten einde die klubhuis te voltooi. OK Koos, ZS6JPY en Michelle, ZS6TO, van die Alberton Amateurradioklub het goedgunstiglik 'n 6 meter gebruikte verskepingshouer sowel as 'n 25 m mas en en 'n Jasco multiband antenna aan die ORK geskenk.

Die mas en antenna sal buite die nuwe klubhuis opgerig word terwyl die houer deel van die klubhuis self sal uitmaak. ORK-lede het tot 'n boufonds bygedra en hulle is trots om te rapporteer dat bouwerk self sal begin sodra die papierwerk voltooi is.

Die ORK het verlede week 'n langtermyn huurooreenkoms met die SA Padvindervreniging in Arrowe Park in Benoni aangegaan.

Indien u deel wil wees van 'n lang bestaande radioklub met baie tradisies en goeie waardes, waarom sluit u nie by die Oos-Randklub aan, en help hulle om 'n grootste stokperdjie te bewaar nie?

Individue en organisasies word uitgenooi om fondse te skenk vir die bou van die nuwe ORK-klubhuis. vir inligting oor hoe om bydraes te maak of hulp te verleen, kontak die klub se eresekretaris Judy Pretorius per e-pos aan zs6erb@gmail.com.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Bloemfontein ARK gehou op 28 September, is die volgende lede tot die komitee verkies:
Voorsitter: Brendon Muller, ZS4BM
Ondervoorsitter: Warren Reilly, ZS4W
Sekretaresse: Jennie Reily, ZS4J
Tesorier: Frans Marais, ZS4FM
Lede: Aldo le Roux, ZS4AL (Kompetisies)
Chris Visagie, ZS4CV

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Sonvlek AR 1 865 het 'n "beta-gamma-delta" magneetveld en huisves genoeg energie vir X-klas sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 55.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die nuwe webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
12 Oktober - Antieke Radiovereniging se AM buis QSO-party, 15:00 tot 19:00 SAT.
13 Oktober - Antieke Radiovereniging se ESB buis QSO-party, 15:00 tot 19:00 SAT.
17 Oktober - Radioamateureksamen.
19 Oktober - CQ Hou Koers.
22 Oktober – H19:00 in die 9de Benoni Padvindersaal, Ebenezerweg, Benoni.
31 Oktober – Logstate vir Antieke Radiovereniging se buis QSO-party moet ingestuur wees.
02 November - RaDAR kompetisie 14:00 – 18:00 UTC.
30 November - Hlansering van Klerksdorp lughawe tussen 06:00 en 08:00.
30 November - SARL@Home by die Nasionale Amateurradiosentrum.
31 Desember - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo, besonderhede verkrygbaar by www.amateurradio.org.za.
28 Februarie 2014 – Sluitingsdatum vir Leerling Opstelkompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel, vertaal en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003